Kabouterland Ons Span – ons liefdevolle span

Die hart van Kabouterland

Reana Brink

Mamma van Kabouterland

Ek is Reana, gebore in die klein dorpie Bedford in die Oos-Kaap en vandag ’n trotse Stellenbosser in hart en siel. In 1990 het ek, nadat ek my BSc aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, Kabouterland begin – aanvanklik as ’n klein groepie van net ses kinders en met my eie twee seuns in my hart.

Deur die jare het daardie klein begin gegroei tot die Kabouterland wat ons vandag ken: ’n plek waar kinders geliefd, veilig en vry is om hulself te wees en teen hul eie tempo te groei. Wat as ’n skool begin het, het vir my soveel meer geword – ’n geloofsprojek, ’n bediening en ’n gemeenskap wat ek baie diep in my hart dra.

Vandag is ek die dankbare mamma van vier seuns én van ’n groot groep kabouterkinders. Dit is vir my ’n besondere voorreg om deel te wees van soveel klein lewens en om te sien hoe elke kind, op sy of haar eie unieke manier, groei en blom.

Kabouterland is vir my nie net ’n skool nie – dit is ’n roeping, ’n bediening en ’n familie.

Ons bestuur

Kiem Wiese

Prinsipaal

Ek is Kim Wiese en my pad by Kabouterland het in 2000 begin. Ná ek my Educare-kwalifikasie aan Boland Kollege voltooi het, het ek by die Kabouterland-familie aangesluit – en wat aanvanklik ’n werk was, het met die jare ’n groot deel van my lewe geword.

Ek is passievol oor kinders, maar net so passievol oor die mense wat elke dag na hulle omsien. Vir my gaan goeie vroeë kinderontwikkeling oor baie meer as net wat ’n kind leer. Dit gaan oor verhoudings, veiligheid, roetine, aanmoediging en die klein oomblikke waarin ’n kind ontdek: “Ek kan dit doen!”

As prinsipaal is dit vir my belangrik om ’n span te bou wat mekaar ondersteun en saam verantwoordelikheid neem vir die welstand en ontwikkeling van elke kabouter. Ek glo dat wanneer ons personeel gelukkig, toegerus en geliefd voel, skep ons dieselfde ruimte vir ons kinders.

Ek is ook mamma van twee pragtige dogters wat albei deur Kabouterland se gange gehardloop het. Buite Kabouterland geniet ek die kleiner dinge in die lewe – skoene, parfuum en veral baie lag!

Dit is ’n voorreg om elke dag saam met ons kabouters en ons wonderlike span te groei.

Katrina Krause

Hoof: Peuters | 3 maande – 3 jaar

Ek is Katrina Krause en my hart lê veral by ons jongste kabouters. Nadat ek in 2021 na Stellenbosch verhuis het en verskillende studierigtings verken het, het ek uiteindelik my roeping in Educare gevind.

Ek het ’n besondere liefde vir die eerste drie jaar van ’n kind se lewe – daardie belangrike jare waarin soveel groei, ontdekking en ontwikkeling plaasvind. Ek glo dat jong kinders ’n veilige, liefdevolle en voorspelbare omgewing nodig het waarin hulle kan vertrou, ontdek en met selfvertroue ontwikkel.

As koördineerder vir die jonger klasse is dit vir my belangrik om ons babas en kleuters nie net goed te versorg nie, maar om elke kind as ’n unieke klein mensie te leer ken – hul persoonlikheid, behoeftes, roetines en klein mylpale.

Ek dien ook in my kerk se Kids Ministry, en my geloof is ’n belangrike deel van hoe ek kinders en gesinne benader.

Elke klein mylpaal is groot genoeg om gevier te word.

Kyla de Swardt

Hoof: Kleuters | 3 – 5 jaar

Ek is Kyla De Swardt, gebore en grootgeword in Sannieshof in die Noordwes. Nadat ek my BA in Geesteswetenskappe aan die NWU voltooi het, het ek na Stellenbosch verhuis, waar ek ses jaar as Educarer by BABIN gewerk het.

My ervaring in vroeë kinderontwikkeling het my geleer hoe belangrik die kleuterjare is. Dit is ’n tyd van groot vrae, groot gevoelens, vinnige ontwikkeling en ongelooflike nuuskierigheid. Ek geniet dit om kinders se persoonlikhede te leer ken en hulle aan te moedig om nuwe dinge te probeer, vrae te vra en in hulself te glo.

Nadat ek in 2023 mamma van my seuntjie geword het, het ek ’n nog dieper waardering gekry vir die vertroue wat ouers in ons plaas wanneer hulle hul kinders aan ons sorg toevertrou.

As koördineerder vir die ouer klasse wil ek graag help om ’n omgewing te skep waarin elke kind veilig genoeg voel om te ontdek, foute te maak, weer te probeer en met selfvertroue te groei.

Elke kind het sy eie storie, sy eie tempo en sy eie manier om te blom.

PERSONEEL

Scroll to Top